The Bigger Better Book Blog/ Die Groter Beter Boekblog

Skrywer Max du Preez is sweetheart van die week

Posted in Uncategorized, Zebra Press by randomstruik on March 1, 2010

Toe Max du Preez vandag by ons Kaapse kantoor in McKenziestraat kom inloer, was daar twee dinge wat my opgeval het. Die eerste was hoe rats hy in ‘n kortbroek lyk. Ag toe nou julle klomp wat so tjie-tjie-tjie daar in die agterste ry. Dit was moer warm, okei? Soos in 40 grade Celcius. En Max het sy uitgewer OP die bloedige middaguur kom besoek.

Die tweede aangename verrassing was dat Max geglimlag het. Die skrywer van Dwars. Mymeringe van ‘n Gebleikte Afrikaan kan soms mos nogal half bedonnerd wees. Ons ken hom so en ons laaik hom so. Maar vandag was hy ‘n ou liefie. En dit wil nogal gedoen wees. Want vir Max het ek Saterdagoggend gebel met die nuus dat hy dadelik in die stort moes spring omdat hy oor ‘n uur by Protea Boekhuis op Stellenbosch moes wees.

“Ek dog dis volgende Saterdag?” het hy oorbluf geprewel.

“Dit is nie.” En toe het ek begin pleit. “Die mense begin al toustaan. Max, hulle soek vir jou en hulle soek jou met ‘n seer hart. Ons kan later uitwerk wie waar watse kat aan die stert beetgehad het, maar kan jy asseblief oor ‘n uur by Protea wees?”

Dit was nie mooi nie.

Dit was nie regverdig nie.

Ek het nie gedink dis moontlik nie.

Maar Max was daar. Of hy agter sy ore gewas het voor hy van die Kaap tot in Stellenbosch gejaag het weet ek nie, maar hy was doodbetyds en het 140 mense uit die vuis toegespreek. Die winkel het sy hele voorraad van Dwars uitverkoop. 

En toe daag hy nog boonop vandag met ‘n glimlag op.

Max, ons weet nie meer of die boek se titel die regte een is nie. Jy is g’n so dwars nie. Jy is amptelik RHS se eerste Sweetheart van die Week. En dit wil gedoen wees, want dis maar nog net Maandag.